“Die liefde is blind…” En die woorde wat hierop volg is al deur menige bekende aangepas om ‘n humoristiese aanslag te hê. Ja, die huwelik is dikwels ‘n tong-in-die-kies onderwerp in toesprake by troues, maar hier en daar is ‘n wysheid wat vassteek en jóú huwelik kan verander.

Elkeen het sy of haar wyse raad wat graag uitgedeel word as dit kom by lewensbesluite soos die huwelik. Waarskynlik het jy en jou maat ook ‘n paar hiervan ontvang vóór jul troudag – en waarskynlik het julle dit reeds vergeet, tensy dit goeie raad was wat iewers bly talm het. Hier is ‘n paar bekendes se gedagtes oor die huwelik, asook waarhede wat ons raakgeloop en raakgeleer het en graag deel. Maak dit deel van jou huwelik se skatkis en dit mag julle dalk net deur die moeilike tye dra.

1. “Die liefde lyk soos die vlugtigste, maar is eintlik die stadigste van alle groeiprosesse. Geen man of vrou weet wat perfekte liefde is tot hulle die dag getroud is vir ‘n kwart-eeu nie.” – Mark Twain.

2. Die wittebroodfase is ‘n mite. Mense tree dikwels die huwelik binne en glo dat dit in die eerste jaar, die verliefde jaar, maanskyn en rose moet wees. In werklikheid is die eerste jaar bitter moeilik. Daar is aanpassings wat soveel moeiliker is as wat jy ooit voorspel het dit sou wees.

3. “Gelukkige huwelike begin wanneer ons trou met die een wie ons liefhet, en dit blom wanneer ons die een met wie ons mee getroud is, liefhet.”- Tom Mullen

4. Gee jou maat die voordeel van die twyfel. Moenie altyd die slegste van jou maat glo nie en moenie in sy/haar motiewe twyfel nie. Soms is jy verkeerd, maar deur die slegte te glo, is die skade reeds aangerig.

5. Tref voorsorg eerder as nasorg. “Werk aan jou huwelik terwyl dit steeds ‘n goeie huwelik is, moenie wag tot daar ‘n probleem is nie. ‘Werk’ hoef nie altyd berading te behels nie, dit kan doodeenvoudig wees om ‘n vaste date night een keer per maand te hê.”- Carla Schiff Donnelly, ‘n prokureur van Pennsylvania.

6. Plaas jou maat voor jou kinders. Dit voel dalk verskriklik en is vir jou ondenkbaar, maar doen dit. Eendag verlaat jou kinders die huis en dan is dit net jy en jou maat wat moet floreer op die liefde wat julle gebou het.

7. Die gras is nie altyd groener nie en ‘n tweede of derde huwelik is nie altyd makliker nie. Die huwelik is harde werk en ‘n ander maat gaan dit nie makliker maak nie. Jy mag dalk sit sonder die probleme van jou eerste huwelik, maar ons waarborg jou jou tweede huwelik gaan sy eie stel probleme bring.

8. Kommunikasie is koning. Mense wat skei, lys dikwels verskeie redes vir die verbrokkeling van hul huwelik, maar dikwels is dit alles simptome, terwyl die ware probleem ‘n tekort aan voldoende kommunikasie was. Praat oor wat in jul lewens aangaan en praat oor jul diepste gevoelens. En luister na jou maat – luister waarlik.

9. “Die huwelik is drie dele liefde en sewe dele vergifnis van sondes.”- Langdon Mitchell

10. Daar sal altyd verskille tussen jou en jou maat wees – sommige hiervan sal nooit opgelos word nie. Dit is belangrik om soms te aanvaar dat julle moet ooreenstem om te verskil.

11. Jy gaan nooit jou maat verander nie. Besluit dus vóór jou huwelik of jy bereid is om met sy/haar foute saam te leef of nie.

12. “Die huwelik is nie ‘n 50/50 vennootskap nie, dit is ‘n 100%/100%-gee-alles-wat-jy-het verhouding.” – Mark Merrill

13. Dieselfde dingetjies wat jy aan die begin van jou huwelik so aanloklik vind, sal waarskynlik verander in die dinge wat jou van jou maat irriteer. Dis nie jou maat wat verander het nie, maar die bril waardeur jy kyk.

14. Hoewel niemand taai tye op enige huwelik toewens nie, is dit wel waar dat dit hierdie taai tye is wat julle sal skaaf en brei.

15. Wees verantwoordelik vir jou eie geluk. Dit is onregverdig om van jou maat te verwag om jou gelukkig te maak. Geen mens kan met daardie tipe druk saamleef nie.

16. Seks is ‘n geskenk van God wat dikwels deur leuens en mites en ‘n siek samelewing beskadig is. Dit is elke paartjie se reg om seks ten volle te geniet. Bid vir jou sekslewe.

17. Moenie wag vir die ‘perfekte lewensmaat’ nie. Daardie maat bestaan nie. Dink daaroor: God het waarskynlik ‘n mens met foute vir jou in gedagte, een wie se foute joune sal ontbloot, een wat jou nader aan Hom sal bring.

18. Trou met iemand wat dieselfde kernwaardes as jy het. Jul belangstellings kan verskil, jul persoonlikhede kan verskil, maar jul morele waardes moet ooreenstem.

19. Dit gaan nie altyd oor liefde nie, soms net oor verdraagsaamheid. Hoeveel van jou maat is jy bereid om te verdra. Want hoe langer julle getroud is, hoe meer is daar dikwels om te verdra.

20. Voer soms jou maat se ego. “So simpel soos wat dit klink, jou maat wil sterk, sexy en aantreklik voel. Ek het gesien hoe huweliksmaats hul maats verkul omdat iemand anders aan hulle aandag gegee en hulle goed laat voel het.”- Christian Denmon, prokureur van Florida.

21. Moet nooit die waarde van goeie tydsberekening onderskat nie. “Wanneer jy ‘n versoek rig, ‘n besluit neem, kritiek uitdeel of om verskoning vra, dit is noodsaaklik om dit te doen wanneer en waar jou maat op sy beste is,” se James Sexton, ‘n prokureur van New York. Moenie ernstige onderwerpe takel na ‘n harde werksdag nie.

22. Jou maat is die enigste familielid wat jy ooit sal kies. Julle sal saam groei maar julle sal ook altyd individue bly, onthou dit.

23. “Waar daar ‘n huwelik sonder liefde is, sal daar liefde sonder ‘n huwelik wees.”- Benjamin Franklin

24. Jou huwelik is uniek. Dit is die enigste verhouding waar jy seksuele intimiteit met jou maat sal hê wat julle op ‘n dieper vlak met mekaar bring as enige ander verhouding in jou lewe, behalwe vir jou verhouding met God.

25. Julle sal saam herinneringe bou wat jou kosbaarste herinneringe ooit sal wees en wat nooit ooit vervang kan word nie. Jul wittebrood, die geboorte van jul babas, jul eerste huis…

26. Jou maat kan nie alles vir jou wees nie. Soms sal hy/sy jou bloot net nie verstaan nie en dit is okay. Jou maat mag nooit jou beste vriendin én jou berader én jou probleem-oplosser én jou skinder buddy én jou vertrooster én jou ouer én jou kind én jou redder én jou pasiënt wees nie… hy/sy kan baie van hierdie rolle vervul, maar jy en jou maat het jul eie vriendekringe en ondersteuningsnetwerke nodig om verskillende rolle in jul lewens te speel.

27. Jou maat kan nie jou gedagtes lees nie. Julle leef so nou saam en ken mekaar so intiem dat jy soms van jou maat gaan verwag om te weet wat jy dink. Onthou altyd om eerder jou behoeftes uit te spel om misverstande te voorkom.

Addisionele bronne: www.thoughtco.com; www.relevantmagazine.com; www.hufpost.com; www.markmerril.com