Ek onthou hoe ek so ’n koue, lam gevoel gekry het toe ek my ma se WhatsApp lees: My niggie het borskanker. Ons moet bid. Die toetse lyk nie goed nie en ons is almal saam toe die dokter bel en sê dis Graad 3-kanker en sy moet met chemoterapie begin.

Maar laat ek julle eers vertel van my niggie (of “nigste”, soos ek haar noem). Dink aan son, palmbome en lekkerte met ’n Turkish Delight cocktail en jy ontmoet my nigste, Annette. Sy is ’n fantastiese vrou wat baie dapper haar boetie help grootmaak het nadat haar ma aan kanker gesterf het toe sy net elf jaar oud was.

Sy is die vrou van Kobus en ma van drie jong manne, almal reeds uit die skool. Sy is ’n kranige bergfietsryer wat baie meer geïnteresseerd is in ry-en-kuier as jaag-na-die-wenpaal. Sy het altyd tyd vir ’n koffiewinkel en ’n kuier. En ek het van die begin af geweet: As enigiemand kanker deur positiwiteit, wilskrag en gebed kan wen, dan is dit sy.

Chemoterapie kry is erger as opdraande ry. Dis hare-uitval-en-siek-voel-tyd. Sy takel die sessies een vir een en probeer hulle gewoonlik vir die middag skeduleer sodat sy die oggend nog iets lekkers kan doen of kan fietsry. Dan, sê sy, het die dag darem sy lekker ook gehad.

Met die chemoterapie-sessies teen Desember afgehandel, gaan ons almal see toe. Ons ry een oggend ver op die strand saam met ons manne fiets en toe ons omdraai, is die wind van voor en die trap swaar. Die manne val weerskante van haar in, elk met ’n hand op die lae rug, en só stoot-trap ons tot by die huis. Wat vir my so wonderlik was, is dat haar minder krag haar nie laat ophou leef het nie. Sy het steeds voluit gegaan en was oop om hulp te aanvaar.

Met 2016 se aanbreek was die eerste operasie om die knop uit te kry – die bors kon bly. Die operasie is afgehandel, die wond seer, maar sy byt vas. Die onkoloog is egter nie tevrede nie en haar bors moet verwyder word.

Toe ek na die operasie by haar huis gaan kuier, gaan dit al beter. Reik na Herstel het vir haar ’n watte-sakkie tietie gegee wat sy solank in haar bra kan dra en sy wys vir my die oulike tietie. Ek sê: “Nee, maar dis ’n handige dingetjie. Dink net as ons vrouens twee ekstra hiervan het, kan ons mos solank ons mans kamer toe stuur met hulle. Dan kan die voorspel sommer so sonder ons begin. Of as manlief vir besigheid reis, dan kan jy iets oulik bo in sy tas pak.”

Die wonde herstel, maar steeds is die onkoloog nie tevrede nie en moet sy vir nog 25 bestralings gaan. Ons drink gou koffie by Vovo Telo en sy vertel my van die plan om elke dag van die 25 dae iets uniek te doen of te ervaar as beloning vir nog ’n afgehandelde sessie. Ek kry vir haar ’n hele “Advent”-kalender van spesiale Babor-velprodukte as deel van haar reis en sy pak die 25 dae met durf aan. En toe, eendag, kry ek weer ’n WhatsApp . . . wat nié ’n koue, lam gevoel gee nie, maar ’n warm, vreugdevolle, bly en dankbare gevoel – die onkoloog is tevrede, sy is skoon!

Ek dra hierdie brief op aan haar en haar fantastiese man, Kobus, wat haar dwarsdeur alles ondersteun het en net weer bewys het Salomo was reg – twee is beter as een. Ek dra dit ook op aan elke vrou wat deur borskanker geraak is en dapper geveg het. En my opregte gebed is dat daar ware genesing vir almal sal wees.

Mag ons altyd onthou die lewe is kort en die tyd om voluit te begin leef, is vandag.