Jy dink dalk jy weet álles rakende kooi-kaskenades… Wel, ons waarborg jou dat daar minstens een van hierdie 22 feite is waarvan jy salig onbewus is!

  1. Dit is inderdaad lekker om ’n Eva te wees! Ja, dit verg dalk ’n bietjie harder werk vir jou man om jou op die punt van ekstase te kry, maar as jy eers daar kom… Het jy geweet die vroulike orgasme duur 20 sekondes lank? Altesaam 14 sekondes langer as manlief s’n!
  2. Kenners meen dit is goed om toilet toe te gaan ná seks – omdat die uitspoel urienweg-infeksies kan help voorkom. Maar het jy al beleef dat dit makliker gesê as gedaan is? Dit is omdat jou lyf ’n anti-ontwateringshormoon vrystel wanneer jy ’n orgasme bereik! Moet egter nie te lank knyp nie…
  3. Die kos wat jy eet, kan jou vagina se smaak en reuk beïnvloed. Speserye, uie, knoffel, rooivleis, suiwel, broccoli en alkohol kan die natuurlike balans versteur, terwyl vrugte en vrugtesappe dinge daar onder soeter kan maak… die effek hou vir twee tot drie dae.
  4. Die gemiddelde vrou sal meer as 3 000 keer gedurende haar voortplantingsjare seks hê! Het jy ’n bietjie inhaalwerk om te doen? Ons sal jou verskoon…
  5. Bang vir die spinnekop teen die plafon? Knyp jou oë styf toe en lê nader aan manlief. Volgens ’n studie deur die Universiteit van Goningen in Nederland, skakel die amygdala (dié deel van die brein wat betrokke is by vrees en angs) af gedurende vroulike orgasme.
  6. Vergeet van spesiale sjampoe en peperduur serums! Seks laat jou hare blink en jou vel gloei, danksy al die estrogeen wat deur ’n bietjie hanky-panky veroorsaak word. So lê terug en sê “Ja!” vir ’n mooi vel!
  7. Daar is miskien die krapperigheid en buiwisselings, maar as manlief weet wat goed is vir hom, terg hy jou nie oor jou PMS nie! Vroue is meer geneig om ’n orgasme te bereik nét voor of gedurende daardie tyd van die maand.
  8. Die meeste mans en vroue kan veelvoudige orgasmes kry. Maar vir mans om een te kry, moet die eerste orgasme sonder ejakulasie gepaard gaan en die ereksie mag ook nie verlore gaan nie! Nogal ’n tall order
  9. Dink jy oumense is boring? Dink weer! Of gaan gesels met die susters in ouetehuise wat kwansuis hul hande vol het met stoute omies wat by tannies se kamers insluip… Altesaam 25% van paartjies bo die ouderdom van 75 is steeds seksueel aktief!
  10. Praat van ’n konsentrasie! ’n Vrou het twee keer soveel senuwee-eindpunte op haar klitoris as wat mans op die hele penis het.
  11. Marilyn Monroe (die grootste seksgodin van alle tye) het gesukkel om ’n orgasme te bereik. Na heelwat terapie het sy blykbaar geroep “Bingo!” en vir haar dokter gesê: “Bless you, doctor. Think of a light switch with a rheostat control (dimmer). As you begin to turn it on, the bulb begins to get bright, then brighter and brighter, and finally in a blinding flash is fully lit. It is so good… Doctor, I worship you.”
  12. Net minder as die helfte van alle mans dink hul penisse is te klein – net so oor die 50% is heel selfversekerd oor waar hulle in die slaapkamer staan. Daarteenoor is 85% van vroue heeltemal tevrede met hul maats se penisgrootte.
  13. Wanneer jy seks het, swel nie net jou genitalieë en borste nie, maar ook die binnekant van jou neus!
  14. As manlief een van die gelukkiges is, kan hy dalk ’n paar kilo’s afgooi. (Dit is nou hier waar amper die helfte van alle manlike INTIEM-lesers die hierdie artikel gaan toemaak en die Real Meal Revolution-boek gaan haal). Vir elke 15kg vet wat verdwyn, vergroot die basis genoeg om ’n man ’n ekstra 2,5cm by te gee.
  15. Jy het seker geweet ’n spermsel is klein, maar het jy geweet: Vir die gemiddelde gesonde man is daar sowat 300 miljoen sperm in een teelepel vol semen!
  16. Sperm bevat dieselfde proteïen wat die teenverouderingseffek in jou bevogtiger meebring, jou vel ferm maak en jou ’n onmiddellike facelift gee! As jy dus saam met manlief op ’n verlate eiland sit en jou botteltjie peperduur nagroom is by die huis, weet jy wat om te doen!
  17. Dolfyne is wonderlike diere! Het jy geweet mense en dolfyne is die enigste spesies wat seks vir plesier het en nie net vir voortplanting nie?
  18. As manlief vyf minute kan uithou in die slaapkamer, gee hom ’n handeklap! Want vir 75% van mans gebeur ejakulasie binne drie minute van penetrasie.
  19. In 2008 het argeoloë in Ciprus op ’n sewende-eeuse vloek afgekom wat op ’n loodtablet geskryf was: “May your penis hurt when you make love.” Niemand weet wie die vloek uitgespreek het nie en hoekom hy (of waarskynlik sý) dit gedoen het nie.
  20. Hoekom het sommige hare mettertyd fyner geword terwyl skaamhare dik gebly het? Wetenskaplikes glo dat dit is omdat skaamhare feromone (die seksuele geure wat seksuele opwekking in mense veroorsaak) moet vasvang.
  21. Altesaam 41% van mans sal graag meer gereeld wil seks hê. Net sowat 29% van vroue voel dieselfde…
  22. Wees dankbaar dat ons in die hede leef! In antieke Rome was prostitusie wettig. Jy kon ’n prostituut uitken deur haar skoene. Hulle was die enigste vroue wat toegelaat is om hoë hakke te dra!

Addisionele bronne: Studentbeans.com, www.lustibility.com, Sheknows.com, womenshealthmag.com, www.glamourmagazine.com, www.rd.com, www.huffingtonpost.com.