Jou huwelik kan slaag of misluk en miljoene paartjies se huwelike skuur net-net deur óf onderdeur. Maar wil jy ‘n vyftig persent-huwelik hê… of wil jy ‘n onderskeiding in huweliksgeluk kry?

As julle soos die meeste studente was, was jul doelwit op varsity om nét genoeg te doen om jou vakke deur te kom. Julle het gekuier en gejol en op nommer 99 die pliggies betaal, omgekoop, afgedreig of gesmeek vir notas! Gedurende die eksamen was dit bloedsweet en hitte-titte. Sou jy dit maak of sou jy nie…? Vandag is julle waarskynlik die ouers van studente wat preek vir jul kinders om nié dieselfde te doen nie. Dis tog nie lekker om voortdurend bekommerd te wees of jy jou vakke gaan maak of nie… want jy weet beter. Jy is wys en het ‘n wyer blik op jou kinders se toekomsgeluk.

Die huwelik is ook só. Doen net wat julle nodig het om te doen om kop bo water te hou, en julle sal in ‘n voortdurende toestand van vrees, benoudheid en noue ontkominge leef. Die verskil is: Destyds was julle jonk en sorgvry. Vandag is daar soveel meer om te verloor. En werk julle elke dag aan jul huwelik, sal julle gerus kan wees wanneer die druk tye kom, sonder om voortdurend te moet wonder of julle huwelik gaan deurskuur…

Wat jy dus wil hê, is ‘n huwelik wat dit nie rakelings maak of mis nie, maar só gesond is dat, sou die onvoorsiene jul tref, julle seker kan wees dat julle genoeg reserwes het om ook dít te kan oorleef. Só maak jy jou huwelik nie net goed nie, maar merkwaardig:

  1. Kom ooreen om soms te verskil. Natuurlik wil jy graag hê dat julle nooit moet baklei nie, dat julle altyd moet ooreenstem en dat daar nooit golwe is wat die bootjie kan skud nie. Ongelukkig is dit nie die realiteit nie en hoe gouer julle sal aanvaar dat dit okay is om soms van mekaar te verskil, hoe beter vir albei partye én jul huwelik.
  2. Berus by die wete dat jy nie jou maat kan verander nie. Natuurlik streef elke paartjie na verbetering en jy hoop dat jou maat jou só sal skaaf om die beste weergawe van jouself te word. Maak egter seker dat jy trou met die persoon wat jy nou ken en nie een wie jy hoop om eendag te ken nie.
  3. Werk daartoe om ‘n uitstekende luisteraar te word. Baie van ons dink ons is dit reeds, maar bitter min van ons is waarlik daar waar ons na ons maats luister om régtig te hoor (en nie om ons antwoord te formuleer nie) en om ons maats beter te verstaan.
  4. Sensor jul date nights. Ja, ons weet dit is bitter moeilik om nié oor Sus se netbaltoer te gesels of Boeta se nuwe hakkel-probleem deur te trap nie, maar as julle dit ‘n date night wil noem, hou by die KREWS-reels. Geen gesprekke oor kinders, rekeninge, ekse, werk of skoonfamilie nie, meen Michael Bloomberg wat die program datenightology ontwerp het om paartjies te help om te herkonnekteer.
  5. Begin altyd jou sinne met “Ek voel” in plaas van “Jy”. Fokus waarlik op jou gevoelens. Moenie sê: “Ek voel jy maak my seer” nie, maar “Ek voel seergemaak, want dit voel vir my asof ek nie gehoor word nie.”
  6. Besef dat julle nie opponente is nie, maar spanmaats. Dit is baie belangrik! Solank julle baklei om te wen, sal jul huwelik altyd in die slag bly. Solank julle werk na die welstand van jul huwelik, kan julle seker wees dat jul huwelik daardeur bevoordeel sal word.
  7. Weeg jou woorde altyd weer en weer. Woorde is baie gevaarlike wapens – wanneer dit afgevuur word op plofbare tye, is woorde selfs nog gevaarliker as gewoonlik! . As jy praat voor jy dink, stap eerder weg van die gesprek af voor jy iets sê wat soveel skade aanrig ,dat jy later daaroor spyt sal wees. Jy kan sê jy trek jou woorde terug, maar dit kan nooit uit jou maat se geheue uitgevee word nie.
  8. Maak doelbewus kontak. In ‘n ideale wereld sal ‘n paartjie voortdurend aan mekaar raak, mekaar in die verbygaan soen, en elke aand styf teen mekaar aan die slaap raak. In die werklikheid werk dit nie so nie en is dit belangrik vir ‘n paartjie om doelbewus kontak met mekaar te maak. Oogkontak, aanraking, seks en romantiese gebare moet ‘n doelbewuste aksie word – moenie op spontaniteit staat maak nie.
  9. Doen minstens een pret-aksie per week. Gaan eet saam roomys, vry op die trampolien, maak saam ‘n supermooi skemerkelkie, swem kaalbas in die see of gesels met mekaar met ‘n uitheemse aksent.
  10. Koel af as dit nodig is. Moenie iets sê wat jy later gaan berou nie. As julle voel dat jul bloed kook, stap eerder weg van die situasie af en gee julself ‘n halfuur om af te koel. ‘n UCLA studie het bevind dat paartjies wat kwaad baklei, meer geneig is tot egskeiding tien jaar later as dié wat afkoeltyd gebruik het.
  11. Byt op jou tong voor jy jou maat wil kritiseer. Ons doen dit almal… en ons doen dit almal voor ons dink. Dit rig groot skade aan die vertrouensband wat tussen julle heers. Daar is verskillende maniere om ‘n boodskap oor te dra. Oorweeg en heroorweeg wat jy wil sê en bly sover moontlik weg van kritiek af wat jou maat kan seermaak.
  12. Praat elke dag met jou maat. Wanneer ons sê “praat”, verwys ons nie na reelings wat oor-en-weer getref word nie. Ons praat ook nie van gesins-geselsies nie, maar van gesprekke wat eksklusief tussen jou en jou maat geskied. Sonder enige insette van buite af, nét julle twee. Nét met mekaar.
  13. Verkort die fisieke afstand tussen julle. Wanneer jy en jou maat saam op ‘n bank sit, skuif nader. Wanneer julle oorkant mekaar by ‘n tafel sit, leun in om nader aan jou maat te kan kom. Wanneer julle by mekaar staan, gaan staan teen jou maat. Deur fisieke afstand tussen julle te verkort, sal jy ook die emosionele afstand verminder.
  14. Kry ‘n goeie finansiële adviseur. Finansies is een van die hoof-oorsake wat huwelike laat sink. Finansiële laste, skuld, verskillende bestedingstyle en finansiële geheime is alles dinge wat jou huwelik kan beskadig. Maak dus seker julle kry ‘n bemiddelaar wat julle kan help om jul finansies optimaal te bestuur.
  15. Moenie probleme laat prut nie. Soms wil ‘n mens net nie baklei nie. Veral nie wanneer dinge so goed gaan die laaste tyd nie. Jy is nie lus om iets wat pla na die oppervlak te bring nie, en jy sien nie kans vir die uitgerekte argument wat jy wéét gaan volg op jou opmerking nie. Die probleem is, onderdompel jy die probleem ter sprake, gaan dit in ‘n latere stadium onbeheersd na die oppervlak kom – en dít wil jy nie hê nie. Hanteer probleme eerder voor dit krisisse word!

Hou by dié vyftien wenke en jy sal ‘n merkwaardige verskil in jou huwelik sien wat jou huwelik sal laat uitstyg bo die res!

Addisionele bronne: www.bestlifeonline.com/marriage-tips

Artikel deur Annelize Steyn