Jy het nie Catherine-Zeta Jones se kat-oë, Katie Holmes se kuiltjies en Demi Moore se kuite nodig om ‘n man verby sy sinne te verlei nie. Volgens die bekende seksuoloog Elmari Craig, kan elke vrou, met behulp van dié tegnieke, ‘n seksgodin vir haar man wees.

‘n Ware verleidster beweeg soos ‘n tier. Sensueel en verleidelik. Sy laat nie ‘n geleentheid verby gaan nie en lê klem op detail. Sy dra maskara en fyn onderklere, en sy wéét hoe om haar huis goed te versier.

Jy kan léér hoe om ‘n seksgodin te word, maar maak seker jou tegnieke pas by jou lewensmaat. Hier is die beste nuus – jy hoef nie elke dag ‘n vyfster sekssessie te beplan nie. Soos Elmari tereg sê: “Godinlikheid is soos ‘n gourmet ete. Deel van wat dit spesiaal maak is dat dit nie elke aand op die spyskaart is nie, maar jy kan die tafel daarvoor dek en gereed wees om jou kunste een keer per week, of selfs twee keer per maand, te bedien. Die doel is om hom te wys, op so ‘n kreatiewe manier moontlik, dat jy die enigste denkbare vrou is wat hy regtig graag wil hê.”

SEXY STRATEGIE 1: Skep ‘n magical ruimte
Verwyder alles wat nie tot ‘n romantiese, sexy atmosfeer bydra nie, uit jou slaapkamer. Dit sluit in: Die oulike vingerverf-kunswerk deur jou tweejarige en die oorvol wasgoedmandjie. Bespaar op jou spaarkamerlinne en gebruik daardie ekstra rande om die duurste linne wat jy kan bekostig vir jul slaapkamer te koop. Bestee geld op blomme, kunswerke en kamerverfrissers (eerder sensueel as vars). Jou slaapkamer moet ‘n magiese ruimte wees waar realiteit nie toegelaat word nie.

SEXY STRATEGIE 2: Skep tyd waar daar nie tyd is nie
Steel jou man se dagboek en teken ‘n afspraak aan. Of besluit op een vaste dag per week waar niks tussen jou en jou man mag kom nie. Verál nie die kinders nie. Besluit vooraf dat die kroos op Vrydagaande by Oupa en Ouma bly of by maats kuier en skakel jul selfone af.

SEXY STRATEGIE 3: Kant, satyn en fluweel in oormaat
Jy het nie ‘n verskoning nodig om onweerstaanbare onderklere aan te skaf nie. Dit is so te sê verpligtend. En geen vrou mag ooit toelaat dat ‘n paar ekstra kilo’s of lemoenskil-dye tussen haar en haar La Senza’s kom nie. Daar is deesdae ‘n oorvloed van style en kleure en elke vrou kan onderklere opspoor en bekostig wat haar figuur en gelaat vlei.

SEXY STRATEGIE 4: Skep ‘n betowerende atmosfeer
Die magic van ‘n vlam is onbeskryflik. Maar kom ons probeer: Die lig en skadu val op presies die regte plekke,jou vel lyk soos gloeiende heuning en jou man lyk soos ‘n spiertier. Boonop is daar net iets wat die flikker van ‘n vlam teen die muur aan verliefde paartjies doen. As jy steeds twyfel, neem enige Hollywood romantiese fliek uit.

SEXY STRATEGIE 5: Drink iets spesiaals…
Koop ‘n bottel wyn of sjampanje en spesiale glase wat niemand anders mag gebruik nie. Die wyn kan selfs in jou bedkassie gebêre word saam met die glase en vervang word ná elke gourmet ete. Sorg dat dit ‘n goeie bottel wyn is en moenie jou sente omdraai nie – onthou elke godin-gereg is spesiaal en ‘n fees om julle liefde te vier.

SEXY STRATEGIE 6: Speel ‘julle’ musiek
Elke paartjie het ‘n aantal liedjies wat vir ‘hulle s’n’ is. Die eerste liedjie waarop julle saam gedans het, die temamusiek van die eerste fliek wat julle saam gekyk het, of selfs net ‘n kunstenaar waarvan julle albei in jul studentedae gehou het. Hoewel julle dalk nie nou daarop gaan head-bang soos in die ou dae nie, herroep dit die herinneringe wat jy daarmee identifiseer en kry jy daardie adrenalien-gevoel terug van die dae toe die skoenlappers nog partytjie in jou maag gehou het.

SEXY STRATEGIE 7: Swaai jou lyf
Om te dans kan ‘n wonderlike voorspel tot seks wees. Sit die musiek hard en dans saam deur die sitkamer, deur die kombuis, op met die trappe tot in die slaapkamer… Die nabyheid, jou asem teen sy vel en die musiek is baie goeie ‘aptytwekkers’. Jy kan ook alleen dans en in die slaapkamer jou lyf vir hom swaai. Dit hoef nie noodwendig sexy te wees nie – net waarmee jy gemaklik is. Daar is iets aan ‘n vrou wat haar lyf kán beweeg wat ‘n man mal maak.

SEXY STRATEGIE 8: Waterkaskenades…
Water is kalmerend en sensueel. Tap ‘n bad in vir julle twee en eksperimenteer met geure soos jasmyn, kamille, geranium, laventel, marjolein en roos. As julle albei gespanne is na ‘n harde dag se werk, gebruik vanilla, neutmuskaat en lemoen. En as jy jou man in die regte bui vir romanse wil kry, geur die bad met sandelhout, ilang-ilang of salie.

SEXY STRATEGIE 9: Van kroontjie…
‘n Kopmassering is ver van die geslagsdele af, maar nietemin erg sensueel en gaan heel waarskynlik tot verdere handewerk lei. Laat hom toe-oë met sy kop op jou skoot lê, terwyl hy diep asemhaal. Begin deur jou vingerpunte teen sy kopvel te druk en beweeg hulle stadig in sirkels van sy voorkop na die agterkant van sy nek. Dan, met jou hande steeds bak om sy kop, plaas jou duime op die basis van sy skedelbeen en beweeg hulle metodies na elke oor, in klein sirkels.

SEXY STRATEGIE 10: …tot toontjie
Gaan soek vooraf na die perfekte restaurant. Moenie volgens die gehalte van die kos, diens of atmosfeer beoordeel nie, maar volgens die lengte van hul tafeldoeke. Wanneer julle gaan eet en oor koeitjies en kalfies gesels, wikkel op ‘n ontspanne manier jou voet van sy tone op teen sy been. Vertel hom wat jy later met hom gaan doen. Nog ‘n idee is om jou servet te laat val, onder die tafel in te klim en skrams met jou hande teen sy lyf te skuur. Liggies, maar wel definitief genoeg om hom te laat wonder waartoe hierdie vrou regtig in staat is…!

Kies watter strategieë vir jou huwelik gaan werk. As ván hulle wil jou te gewaagd is, probeer een waarmee jy gemakliker voel. As jy die gevolg van jou pogings sien, sal jy waarskynlik kort-voor-lank al tien deurdraf!